Fases in Demensie
Inleiding
Die meeste vorme van demensie is onomkeerbaar, maar dit beteken nie dat demensie onbehandelbaar is nie. ‘n Geleidelike agteruitgang kan oor ‘n tydperk van 5 tot 10 jaar plaasvind. Alhoewel daar verskillende fases van demensie bestaan, is daar aansienlike oorvleueling tussen hierdie fases. Dit mag nie altyd maklik wees om presies te bepaal in watter fase die persoon homself bevind nie, aangesien die tipe, graad en volgorde van simptome van persoon tot persoon verskil. Die verloop van die siekte word oor die algemeen in vyf verskillende fases verdeel.
Fases
- Die eerste fase is ‘n pre-demensie fase en word ook deur sommige navorsers beskryf as ligte kognitiewe inperking.
- Die volgende drie fases word by diagnose aan versorgers beskryf as vroeë/ligte, matige en laat/ernstige dementie.
- Die finale stadium word as gevorderde dementie beskryf.
- Die eerste 2 fases word gesien as gewone normale vergeetagtigheid.
Fase 1: Pre-demensie / Ligte Kognitiewe Inperking
- Subjektiewe bewustheid van ‘n inkorting in die korttermyngeheue.
- Word dikwels as normale vergeetagtigheid beskou.
- Depressie en angs, saam met ander nie-spesifieke gedragsveranderings, kan voorkom.
- Persoonlikheidsveranderinge soos apatie en geïrriteerdheid, wat toegeskryf word aan ouderdom of depressiwiteit, is kenmerkend.
- Afname in sosiale aktiwiteite, belangstellings en stokperdjies.
- Afname in werkprestasie en besluitnemingsvermoë.
- Probleme met probleemoplossing kom voor.
Baie belangrik:
- Die subtiele tekens van demensie word aan die begin gewoonlik deur die persoon en sy/haar naasbestaandes geïgnoreer.
- Die geleidelike ontstaan van simptome veroorsaak dikwels dat die persoon en familie dit nie nodig ag om professionele hulp te kry nie.
- Gevolglik, namate die toestand vorder, word die simptome erger en meer opvallend, en raak dit al hoe moeiliker vir beide die persoon en versorger om te besef dat daar meer as net subtiele tekens is. Dit lei tot ‘n vertraging in diagnose en die aanvang van noodsaaklike versorging.
Fase 2: Vroeë / Ligte Demensie
- Volgehoue inkorting in ‘n wye spektrum van funksioneringsareas kom voor.
- Alhoewel die persoon gewoonlik steeds onafhanklik kan funksioneer of met minimale hulp.
- Die korttermyngeheue werk steurend in op die Aktiwiteite van Daaglikse Lewe (ADL), byvoorbeeld: sleutels verloor, die inhoud van gesprekke vergeet, en soms disoriëntasie van tyd en plek (vergeet datums, raak in vreemde omgewings gedisoriënteer).
- Probleme om woorde te vind, soos name en objekte.
- In nuwe situasies sukkel hulle met probleemoplossing (kan nie nuwe inligting aanleer nie).
- Probleme met sosiale funksies, soos om inkopies te doen of huishoudelike take te bestuur.
- Persoonlike versorging en higiëne begin agteruitgaan.
- Die persoon kan steeds na buite normaal voorkom.
Fase 3: Matige Demensie
- Meer ernstige inkortings kom voor, tot so ‘n mate dat hulle meer hulp van die versorger benodig met aktiwiteite van die daaglikse lewe.
- Disoriëntasie van tyd en plek neem toe.
- Sukkel om woorde te vind en praat nie meer spontaan nie.
- Oordeel en probleemoplossingsvermoë verswak oor die algemeen, en nie net met moeilike of nuwe take nie.
- ‘n Onvermoë om onafhanklik in sosiale situasies te funksioneer.
- Slegs eenvoudige take kan by die huis uitgevoer word.
- Bystand met persoonlike versorging is nodig.
- Gedragsprobleme soos agitasie, aggressie, psigose, slaapversteurings en rondloopgedrag kan voorkom.
Fase 4: Laat / Ernstige Demensie
- Geen onafhanklike funksionering kom meer voor nie.
- Residensiële versorging word ‘n noodsaaklike opsie.
- Die persoon weet nie waar hy/sy is nie, met min begrip van die tyd, datum of dag.
- Oordeelsvermoë is heeltemal verlore.
- Sosiale funksionering is minimaal, selfs met ondersteuning.
- Geen vermoë vir eie versorging nie.
- Inkontinensie kom gereeld voor.
Fase 5: Gevorderde Demensie
- Algehele afhanklikheid van versorgers, 24 uur per dag.
- Geen waarneembare tekens van geheuefunksie nie.
- Erken nie bekende mense, insluitend naasbestaandes, nie.
- Kan nie meer praat nie.
- Raak immobiel en inkontinent.
Deur Welma Geldenhuys
ADASA Gauteng Senior Sosiale Werker