Ons moet begin minder maak

Ons moet begin minder maak

Ons moet begin minder maak

Ingestuur deur Anita Dippenaar

Bel Ma my vanoggend net toe ek oppad is na ‘n vergadering : “My kind ons moet begin minder maak, hier is te veel goed in my huis.”  Onmiddellik flits al die nuttelose items, hordes bakke, ornamente en klein goedjies uit kinderdae voor my verby.  Sy borduur voort:  “Hier is heeltemal te veel klere in my kaste, ek raak deurmekaar,  noudat Sus vir my nuwe klere gemaak het is ek deurmekaar, hier is te veel klere, in elke vertrek is ‘n kas met klere en agter my badkamerdeur hang ook ‘n klomp.  Hier is soveel jasse wat ek nie aantrek nie.”

My vol program vir die volgende paar dae lê klaar beplan voor my – vandag die vergadering, môre trek my dogter, Liza, uit die huis na ‘n woonstel en net vanoggend toe ek vir die soveelste keer na die maatband in die deurmekaar naaldwerkkas soek, het ek gedink dit is hoog op my prioriteitslys, pak alle kaste reg en gooi weg wat nie gebruik word nie.

Ma se stemtoon verskerp: “Jy gaan nie sommer weer alles net na die Hospice toe vat nie,  ons moet alles deurgaan, ek en jy en Sus (my suster).  Die kleinkinders word groot en dalk wil Sussie dit dra.  Hier is goeie goed.”  Met die tydfaktor in gedagte kom my versigtige voorstel:  “Soek Ma solank uit wat Ma nie wil hê nie, dan kom kyk ons daarna en besluit dan”.   Vinnig kom die gryse vrou se antwoord:  “Dan moet alles weer hier in die kamers rondlê tot julle hier uitkom?  En ek gaan nou eet, dan is die tyd ook weer te min.”  Ek verduidelik van Liza wat trek en dat ons die volgende week al ons aandag daaraan kan gee.  “Nou goed, dan maak ons maar so”, kom die verwytende antwoord.

So het dit begin. Ek was onkundig en het nie die tekens herken nie en het ook geen kennis gedra van hierdie “siekte” nie. Mettertyd het dit erger geword.  Sy het al hoe meer verward, gedisoriënteerd en agterdogtig geword, bang vir alles en kon nie meer verstaan hoe haar televisie se “remote” en haar selfoon werk nie.  Nadat ons koppe bymekaar gesit het, het ons besluit het dat sy nie meer alleen in haar woonstel kon aanbly nie.  My man het voorgestel dat sy by ons intrek en het ‘n kamer vir haar reggemaak.  Nou kon ons ‘n ogie oor haar hou en sorg dat sy gesond eet en nie so verward raak wanneer sy haar pille moes drink nie. Begin 2008 trek sy in. Ons het plakkertjies op haar klerekas se rakke geplak en mandjies gebruik vir die los items, maar nog steeds het sy meer en meer verward en vergeetagtig geword, terwyl ek nie  werklik besef het wat aangaan nie.  Nadat sy ‘n jaar by ons gebly het, het my broer gevra dat sy vir ‘n onbeperkte tyd by hom en sy vrou gaan bly.  Sy was dadelik te vinde daarvoor en kort voor lank was dit die groot trek na ‘n klein dorpie in die Oos-Vrystaat.  Aanvanklik het dit goed gegaan totdat my skoonsuster my een oggend gebel het om te sê dat Ma in ‘n  aangrensende dorp se hospitaal opgeneem is.  Hulle weet nie wat fout is met haar nie.  Na twee weke se toetse en ondersoeke kom die antwoord: “Dimensie”

Vir ons was dit ‘n vreemde begrip, woordeboeke is nader gesleep en op die internet rondgesoek na verklarings, simptome, medikasie en genesing.  Ek het orals gevra, maar nie werklik antwoorde gekry nie.  So het ek besluit dat dit tyd is dat sy terugkom na ons toe.  Hierdie keer was my man om verstaanbare redes nie geneë om haar terug te neem by ons nie.  So het ek begin navraag doen by plekke van versorging en natuurlik moes die grootte van haar pensioen ook in ag geneem word.   Daar was ‘n opening by ‘n plaaslike ouetehuis se versorgingseenheid.  Nadat verskeie reëlings met die dokters en haar mediese fonds getref is, is  sy oorgeplaas na ‘n private hospitaal in ons dorp en per ambulans hierheen gebring.  Verdere toetse is deur ‘n internis gedoen.  Twee weke later is sy in die versorgingseenheid opgeneem.  ‘n Arbeidsterapeut het haar op ‘n gereelde basis besoek en sy het my ingelig oor die simptome en hantering van Demensie en Alzheimers-pasiënte.

Ma se toestand het vinnig agteruit gegaan  totdat sy later bedleênd en aan die bed vasgemaak is, want sy wou net uitklim en was moeilik hanteerbaar.  Drie maande later, op 16 Augustus 2010 om 21:30, het die oproep van die nagsuster gekom: “Ons het ‘n insident hier gehad, jou ma is oorlede.” Die dokter se diagnose: ‘Orgaanversaking’.

Deur baie boeke en pamflette te lees, navorsing op die internet te doen en praatjies by te woon het ek my kennis verbreed, maar dit was te laat.  Ek kon haar soveel anders gehanteer het as ek net vroeër die kennis gehad het. Verblydend was die nuus toe ek in Junie 2025 verneem dat ADASA, Noordwes, ‘n kantoor geopen het.  Hulle was aktief besig met die bewusmaking van Dimensie in die gemeenskap van Potchefstroom en Noordwes.

Wanneer ek self nou dinge vergeet, is daar die vrees en vertwyfeling…… is dit normale veroudering of dalk die begin van een lang hartseer totsiens met die naam Dimensie of Alzheimers?